|  
|  
AANTEKENINGE
1.   Huursoldate
Korpse Switserse huursoldate bestaan reeds vir etlike eeue en Konings van Frankryk
en Pruise het onder andere Switserse soldate as lyfwagte gebruik (Cherry 1986) terwyl
Switserse huursoldate in die meeste weermagte in Europa geveg het (Bunting 1973:26;
Potter 1979:882). Sedert Pous Julius II sy Switserse wag, die Cohors Helvitica in 1506
saamgestel het, bestaan die Pous se persoonlike lyfwag nog steeds uit Switserse
soldate, tans bekend as die Guardia Svizzera wat ook vir interne sekuriteit en
openbare orde in die Vatikaanstad verantwoordelik is. (Wall 1979:37.)
2.   Die Kompanjie
Die Generale Verenighde Nederlandsche g'octroieerde Oostindische Compagnie (VOC)
kom volgens 'n handves, gedateer 20 Maart 1602, te Den Haag tot stand. Met dié
handves verenig die State-Generaal 'n aantal klein handelsorganisasies wat gereeld
skepe na die Ooste gestuur het om handel te dryf. Die VOC verkry toestemming om
alleenhandel met die hele gebied ten ooste van die Kaap die Goeie Hoop tot by die
straat van Magellaan te dryf.
Die Here XVII (of Bewindhebbers) het uit 17 lede bestaan; 8 was uit Amsterdam
afkomstig, 4 uit Middelburg, en een elk uit die kamers van Delft, Rotterdam, Hoorn en
Enkhuizen. Die 17de lid is beurtelings uit elke kamer, behalwe die kamer van
Amsterdam, gekies (Theal 1927:346; Böeseken 1974:14-15).
3.   Ds Petrus Kalden ook Calde en Calden (c 1670-1730)
Ds Kalden is op 4 Desember 1695 as leraar aan die Kaap ingewy (Theal 1922:375).
Op 4 Januarie 1699 skenk Simon van der Stel die plaas Zandvliet aan Kalden waartoe
sy seun, W A van der Stel, later 'n aantal morg byvoeg. Kalden wy op 6 Januarie 1704
'n nuwe kerkgebou vir die Kaapse gemeente in (die toring vorm nog deel van die
Groote Kerk in Kaapstad). Kalden is in April 1707 saam met die goewerneur, Willem
Adriaan van der Stel, die sekunde, Samuel Elzevier en die landdrost, Jan Starrenburg
van sy amp onthef na aanleiding van Adam Tas en ander vryburgers se klagskrif oor sy
grootskaalse boerdery. Hy vertrek op 23 April 1708 na Nederland. (Krüger
1972:362; Theal 1922:430.)
4.   Engelbertus Franciscus Le Boucq (1675-1748)
Le Boucq kom op 30 Maart 1707 in die Kaap aan om diens as leraar van die Hugenote
in Drakenstein te aanvaar. Toe ds Kalden na Nederland teruggeroep word, word Le
Boucq tesame met ds H Beck in die Kaapstadse gemeente aangestel. Le Boucq het
heelwat onenigheid aan die Kaap veroorsaak met sy voortdurende aanvalle op
verskeie inwoners en sy aanhoudende klagtes.
Na die voorval in die kerk op 28 Augustus 1707 toe hy Abraham Poulle en Hans
Oberholster van hulle ampte probeer onthef het, het die Politieke Raad geweier om
verder sy salaris te betaal waarop hy 'n klagskrif opgestel het oor die 'Cabo de
Verwarde Hoop'. Hy moes verder die regskoste van 'n geding van ds Kalden teen hom
dra en 'n boete van honderd riksdaalders betaal. Op 13 September 1708 verlaat hy die
Kaap na onsuksesvolle pogings om in sy amp herstel te word. (Beyers 1981:321-320.)
5.   Die Heemrade
Die eerste kollege van vier heemrade is op 30 Augustus 1682 in Stellenbosch
aangestel om klein geskille tussen burgers op te los. Hierdie hof het uit
vooraanstaande inwoners bestaan wat elk vir twee jaar gedien het. Twee lede het
jaarliks uitgetree en die raad het self 'n lys van vier name aan die Politieke Raad
voorgelê wat dan twee plaasvervangers aangestel het. Die eerste Stellenboschse
heemrade was Gerrit van der Byl, Henning Huising, Hans Jurgen Grimp en Hendrik
Elberts (Theal 1922:258). Die heemrade het mettertyd meer bestuursfunksies verkry
en uiteindelik neem die kollege van die Landdros en Heemrade die plaaslike bestuur
op die platteland waar (Van der Walt et al 1977:67).
6.   Die Du Toits
Francois du Toit en sy broer Guillaume (albei afkomstig van Ryssel
in Frans-Vlaandere) was die eerste Du Toits wat in die Kaap
gevestig het. Die Du Toits in Suid-Afrika is afstammelinge van
Francois du Toit en sy vrou Susanna. Francois du Toit was tot voog van
Jan en Helena se kinders benoem (Hans Oberholster se testament).
Guillaume en sy vrou Sara het net dogters gehad naamlik Helena
(die stammoeder van die Oberholsters in Suid-Afrika), Geertruy en
Susanna. (Fouché 1970:55.) Geertruy is met Pierre Rousseau en na
sy dood met Carel van der Merwe getroud. Susanna het met Willem
Elberts in die huwelik getree. (De Villiers 1966:911.)
7.   Judith du Plessis (gebore 1694)
Jean Prieur du Plessis, stamvader van die Du Plessis' in Suid-Afrika, het in 1688 in die Kaap
aangekom. Hy is gebore te Poitiers in Poitou, Frankryk en was 'n chirurgyn. (De Villiers 1966:701.)
Judith (gebore 1694 in Ierland) was 'n dogter uit Jean Prieur du Plessis se eerste huwelik
(met Madeleine Menanteau - ook aangeteken as Magdalena Menantos) (Coetzee 1988:338; Kannemeyer 1940).
Judith was Hans Oberholster se tweede vrou.
Na Madeleine se dood trou Jean du Plessis met Marie Buisset (sien Aantekeninge paragraaf 8).
8.   Marie Buisset (1679-1757)
Marie Buisset was Jean Prieur du Plessis se tweede vrou en dus Judith se stiefmoeder.
(Sien Aantekeninge paragraaf 7.) Marie was 'n opgeleide vroedvrou en het moontlik die
snykunde beoefen en haar op die gebied van die regsmedisyne begewe. (Burrows 1958:40.)
Op 15 Februarie 1721 ontbied Hans Oberholster se vrou (Judith) haar stiefmoeder,
Marie Buisset. 'n Slavin, Jannetjie, is deur Anthonij van Goa, met 'n mes aangeval.
Anthonij was 'n 'leijfeijgenis' wat 'n rukkie tevore deur Oberholster aan Beatrix Verwey
verkoop is. Marie Buisset se verslag is opgeteken in dokument CJ 339:69. In 'n
daaropvolgende verhoor erken Van Goa dat hy weggeloop en Jannetjie met 'n mes
gesteek het: blykbaar vanweë haar gewaande ontrouheid aan hom. Hy word deur
landdrost Jacob Voet skuldig bevind en die doodstraf word aanbeveel (CJ 339:57-77).
9.   Hendrik Swellengrebel (20/09/1700-26/12/1760)
Tree in 1713 as 'assistent schrijver' tot die Kompanjie se diens toe; word in 1717 tot
boekhouer bevorder en word in 1724 volwaardige lid van die Politieke Raad met die
rang van onderkoopman. Op 14 April 1739 word hy Goewerneur van die Kaap in die
plek van Adriaan van Kervel en beklee dié pos tot 1751. Swellengrebel was die eerste
en enigste Goewerneur wat aan die Kaap gebore is.
'n Nuwe landdrosdistrik word in 1745 gestig en in 1747 na Swellengrebel en sy vrou,
Helena Willemina ten Damme vernoem as Swellendam. Swellengrebel word in 1751
deur sy swaer, Ryk Tulbach, opgevolg. (Krüger:745-746.)
|  
|