Hans Oberholster

Webstyle produced NavBar
Stamland Familie wapens Die Van Hans Oberholster
Webstyle produced NavBar
Huwelike Testament Aantekeninge Tydrooster Bronne
Herkoms
Soldaat
Kerkraadslid
Vleisleweransier
Heemraad
Burgermagdiens
Boerdery
'Bijtapper'
Petisie teen
W A vd Stel
Le Boucq se Aanklag
   

Klik vir Adolphe Linder se
beskrywing van Hans Oberholster*

Herkoms

Hans Oberholster, ook bekend as Johann, Johannes of Jan, is volgens Schmidt (1935; 1939) in 1680 te Aa in die distrik Wald (Kanton Zürich) gebore. Volgens sy testament was hy egter 45 jaar oud in 1718 en is hy dus in 1673 of 1674 gebore.

Hans Oberholster se voorsate was skynbaar uit die gehuggie Oberholz bei Wald afkomstig. (Sien kaart van 'n gedeelte van Switserland onder Die Stamland.)

Om verwarring te voorkom word die voornaam "Hans" deurgaans in hierdie dokument gebruik.

Bedrywighede

Soldaat

Hans was 'n Switserse huursoldaat (Schmidt 1939:83) en volgens Malherbe (1959) arriveer hy in 1696 in die Kaap; sy beroep word destyds as soldaat aangegee (sien ook Aantekeninge, paragraaf 1). Dit kan met veiligheid aangeneem word dat Hans gedurende die tydperk 1696-1703 in die Garnisoen in Kaapstad diens gedoen het.

'n Skrywe van die Algemeen Rijksarchief te Den Haag bevestig dat Hans Oberholster wel tussen 1697 en 1703 op die monsterrolle van die Kompanjie-personeel aan die Kaap as soldaat aangeteken was. Vanaf 1704 verskyn sy naam nie meer op die monsterrolle nie en die argief aanvaar dat hy gedurende 1703 vryburger geword het. Oberholster het dus in 1703 sy kontrak met die Kompanjie (wat destyds sewe jaar geduur het) voltooi. (Rijksargief 1995.)

Vryburger

Kerkraadslid

Hans Oberholster het as Rooms Katoliek in die Kaap aangekom en later die Protestantse geloof aanvaar. 'n Paar jaar na sy aankoms verbied die Raad van Sewentien, vanweë die vyandelikhede met Frankryk, op 22 Junie 1700 onder andere verdere immigrasie van katolieke na die Kaap (Theal 1922:392-393).

Sy verkiesing as diaken op die Kaapstadse kerkraad word deur die Politieke Raad op 18 Desember 1706 goedgekeur (Resolusies 1681-1707:453); hy dien in dié gemeente as diaken tot 19 Desember 1708 (Resolusies 1707-1715:77).

Hans Oberholster het later na Stellenbosch verhuis en sy verkiesing as diaken aldaar word op 24 Desember 1711 deur die Politieke Raad bevestig (Resolusies 1701-1715:249-250). Ingevolge 'n resolusie van 20 Desember 1713 word hy deur Jacobus de Lange as diaken vervang (Resolusies 1707-1715:364). Op 31 Desember 1714 word sy herverkiesing as diaken in die Stellenboschse kerkraad bevestig (Resolusies 1707-1715:429) en hierdie ampstermyn word deur 'n resolusie op 22 Desember 1716 beëindig (Resolusies 1716-1719:121).

Vleisleweransier

Die hoofrede vir die stigting van die nedersetting aan die Kaap in 1652 was om vars vleis en groente aan verbygaande Kompanjie-skepe te verskaf (Aantekeninge, paragraaf 2).

Op 19 Desember 1705 besluit die Politieke Raad in opdrag van die 'Heeren Majores' in Nederland om vanaf 1706 'n kontrak vir die lewering van vleis aan verbygaande skepe en die hospitaal aan vier vryburgers toe te ken (Resolusies 1681-1707:429; Aantekeninge, paragraaf 2.). Tot op daardie stadium het Henning Huzen (ook Huising of Huizing) 'n monopolie vir vleislewering besit (Picard 1972:103). Hans Oberholster, Michiel Leij, Anthoni Abrahamsz en Willem Basson was die eerste vryburgers met wie kontrakte aangegaan is. Die kontrakte is op 28 Desember 1706 vir 'n verdere tydperk verleng (Resolusies 1681-1707:454) en dit blyk dat Hans en die ander drie leweransiers teen Mei 1707 steeds vleis gelewer het (Resolusies 1681-1707:464).

Die vier leweransiers doen egter aansoek om vrystelling van die kontrakte vanweë probleme met die aankoop van slagvee en die langdurige droogte. Die Politieke Raad aanvaar hierdie versoek op 2 Mei 1707 en stel die kontrak per biljet aan belangstellendes beskikbaar. Die Raad kondig aan dat Henning Huzing weer vanaf 1708 die pligte van vleisleweransier sal vervul (Resolusies 1681-1707:464).

Heemraad

Die kollege van heemrade het aanvanklik as hof vir die beslegting van kleiner geskille tussen burgers gedien (sien ook Aantekeninge, paragraaf 5).

Hans Oberholster word op 10 Januarie 1713 saam met Wessel Pretorius tot heemraad van Stellenbosch verkies (Resolusies 1707-1715:300). Die landdros en heemrade van Stellenbosch en Drakenstein doen op 4 September 1713 aansoek om die stigting van 'n fonds vir die bestryding van kostes deur heemrade, die sekretaris, bode en chirurgijn aangegaan in die uitvoering van hulle pligte. Die Politieke Raad keur op 26 September 1713 hierdie versoek goed en Hans Oberholster word as kassier van 'de raadcamer-cassa' benoem (Resolusies 1707-1715). Ingevolge 'n resolusie van 31 Desember 1714 word hy en Daniel Phijl aan die einde van hulle ampstermyn deur Pieter van der Bijl en Adam Tas as Stellenboschse heemrade vervang (Resolusies 1707-1715:430).

Dokument C 1084 (No 115) toon aan dat Hans Oberholster in Desember 1720 as heemraad saam met Adam Tas en ander vryburgers genomineer is. (Sien Figuur 1.) Hy is klaarblyklik nie hierdie keer deur die Politieke Raad aangestel is nie.

Burgermagdiens

Die Politieke Raad bevestig op 12 September 1713 Hans Oberholster se benoeming tot 'ritmeester' van die 'Colonie Draakenstein'. Op hierdie stadium word steeds na hom as heemraad verwys (Resolusies 1707-1715:359). Gedurende 1715 was Hans Oberholster kaptein van die Stellenboschse Dragonders (C 1073 No 6). Die Stellenboschse kompanjie dragonders (ook as kavellerie of ruitery bekend) het in 1688 alreeds uit 40 man bestaan. (Roux 1925:52). Dirk Coetse (ook Coetsee) word as kaptein van die 'infanterij' aangedui (C 1073 No 6). Dirk Coetse was Stellenbosch se eerste kerkraadslid (ouderling) en is op 20 Desember 1686 deur die Politieke Raad aangestel (Theal 1922:318). Die plaas 'Coetsenberg' het sedert 1682 aan hom behoort (De Villiers 1981:144).

Hans Oberholster se versoek om van die amp 'ritmeester' ontslaan te word, word op 7 November 1719 deur die Politieke Raad toegestaan op grond daarvan dat hy hom mettertyd weer in die Kaap wil vestig (Resolusies 1716-1719:387). Hy word egter eers op 2 September 1721 deur Francois du Toit vervang en woon op daardie stadium waarskynlik steeds op Stellenbosch (Resolusies 1720-1723:128).

Boerdery

Hans verkoop in 1709 sy huis in Tafelvallei en trek Stellenbosch toe waar hy sy skoonvader se plase oorneem. In 1711 koop hy die plaas Nietvoorby naby Klapmuts en in 1712 verkry hy weidingsregte op die aangrensende Uitkyk. Gedurende Februarie 1714 word weidingregte vir ses maande 'over de 24 rivieren' (waar die huidige Porterville geleë is) aan Hans toegestaan (RLR 2:103).

Hans word binne 'n paar jaar 'n suksesvolle en welvarende boer. Die Burgherrol van 1712 toon aan dat hy op daardie stadium in besit was van 6 manlike slawe, 11 perde, 81 beeste, 500 skape, 18000 wynstokke en 16 lêers wyn. Hy boer ook met koring en hou ses gewere, een pistool en twee swaarde aan. (Linder 1997:84-85.)

'Bijtapper'

Gedurende 1722 vra Martinus van Lijpsig, pagter van Coele Wijnen die Politieke Raad se toestemming om Hans Oberholster as sy 'bijtapper' aan te stel (C 1087) en hierdie versoek word op 23 Junie 1722 toegestaan (Resolusies 1720-1723:192).

Die petisie teen W A van der Stel

Toe Willem Adriaan van der Stel in 1706 deur sommige van die inwoners van korrupsie en ander wandade aangekla word, laat hy (Van der Stel) 'n dokument opstel waarin hy hierdie klagtes probeer weerlê.

Volgens Theal (1922:423-433) is die handtekeninge op die dokument op allerlei onderduimse maniere verkry - selfs met dreigemente. Hans Oberholster se handtekening is een van 240 name (handtekeninge en kruisies) op die versoekskrif.

Le Boucq se aanklag

'n Insident wat blykbaar heelwat opskudding aan die Kaap veroorsaak het, was die poging van ds Le Boucq om Hans Oberholster (tesame met Abraham Poulle) uit die Kaapse kerkraad te skors.

Willem Corssenaar lewer verslag oor 'n kerkraadsvergadering gehou op 29 Junie 1707 waartydens Le Boucq aanvoer dat Oberholster se aanstelling as diaken onbillik is vanweë die feit dat hy kort gelede eers sy belydenis afgelê het. Oberholster het geantwoord dat hy reeds voor ds Calden 'hier al gecommuniceert hadde' (C 334:188). Die predikant verklaar verder dat Oberholster 'die getuijgenis niet kon hebben' en slinger verdere beskuldigings in sy rigting (C 334).

Die kerkraad besluit ná bespreking dat hulle nie Le Boucq se voorstel kan ondersteun nie waarop die predikant dit op homself neem om Oberholster tot die bywoon van verdere kerkraadsvergaderings te verbied.

Op 28 Augustus 1707 lewer ds Le Boucq 'n preek na aanleiding van Spreuke 29:1 en kondig daarna aan dat Abraham Poulle, ouderling en sekretaris van die Raad van Justisie en Jan Oberholster, diaken, van hulle ampte onthef word. Hierdie gebeure hou waarskynlik met die Van der Stel aangeleentheid verband: Le Boucq het in sy preek die burgers wat standpunt teen Van der Stel ingeneem het, met die 'regverdiges' in die hoofstuk vergelyk en na Van der Stel as die 'man wat sy nek verhard het', verwys (Theal 1922:458-460).

Volgens Joan D'Ableing, opperkoopman en waarnemende goewerneur, het hierdie aankondiging 'tot d' uitterste consternatie van de toehoorderen en alteratie van de meeste vrouwen' plaasgevind. Een van die vroue, Christina Does, vrou van die luitenant, Adriaan van Reede, moes 'haar uit de kerk na 't ziekenhuis ... begeven, alwaar van haarselven was geraakt ...' (Resolusies 1707-1715:20).

Die lede van die Politieke Raad het onmiddellik na die kerkdiens (teen ongeveer eenuur namiddag) vergader en besluit om die saak die volgende oggend te ondersoek en om Le Boucq te versoek om nie die middagdiens waar te neem nie (Resolusies 1707-1715:17-18).

Na verskeie versoekskrifte van Le Boucq en beraadslaging deur die Politieke Raad (sien bv Resolusies 1707-1715:20-23) is dié predikant in 1708 vanweë sy skoorsoekerige gedrag na Batavië teruggestuur (Resolusies 1707-1715:46-47; Theal 1922:458-460). (Sien ook Aantekeninge, paragraaf 4.)

    * LINDER, A. 1997. The Swiss at the Cape of Good Hope - 1652-1971. Basel: Basler Afrika Bibliographien, 83-86.

 

 

Figuur 1
Benoeming van Heemrade (1720)

Terug na BEGIN van bladsy