Hans Oberholster

Webstyle produced NavBar
Stamland Familie wapens Die Van Hans Oberholster
Webstyle produced NavBar
Huwelike Testament Aantekeninge Tydrooster Bronne

Huwelike

Hans Oberholster was twee keer getroud (sien uittreksels uit die Stellenboschse huweliksregister: Figuur 1 en Figuur 2).

Helena du Toit

Hans is op 5 Julie 1706 met Helena du Toit getroud. Helena was 'n dogter uit die eerste Du Toits wat in die Kaap aangekom het; haar vader, Guillaume du Toit en sy vrou Sara, gebore Cochet (of Couchet), van die plaas Aan 't Pad naby Stellenbosch, het net dogters gehad, naamlik Helena, Geertruy en Susanna (Kannemeyer 1940:88; De Villiers 1981:991; sien ook Aantekeninge, paragraaf 6).

Helena du Toit is, volgens Adam Tas se dagboek op 23 Julie 1690 gebore en op 6 Augustus 1690 gedoop, en was dus nog nie sestien jaar oud toe sy met Hans Oberholster getroud is nie (Fouché 1970:55; 85). Helena is in 1713 op 23-jarige ouderdom oorlede (haar dogter Johanna Barbara is op 18 Junie 1713 gedoop en Jan het in Januarie 1714 weer in die huwelik getree).

Judith du Plessis

(Sien Aantekeninge, paragraaf 7)

Na Helena se dood is Hans op 14 Januarie 1714 met Judith du Plessis, weduwee van Arie (ook Arij of Ary) van Eeden, getroud. Judith du Plessis was 'n dogter van die chirurgijn Jean Prieur du Plessis (1638-1708) van Poitiers, Frankryk, wat in 1688 in die Kaap aangekom het. Du Plessis se tweede vrou, Marie Buisset (Judith se stiefmoeder), was 'n erkende vroedvrou van wie in verskeie geskrifte melding gemaak word (Botha 1962:182-183; sien Aantekeninge, paragraaf 8).

Hans se testament gee Judith se ouderdom in 1718 as 24 jaar aan, wat met haar doopdatum (1694) strook. Volgens Coetzee (1988:338) is sy gedurende 1694 in Ierland gebore. Geen kinders is uit Hans en Judith se huwelik gebore nie. Judith is ná Hans Oberholster se dood met Claas van Donselaar in 1724 getroud (Voetnota Resolusies 1720-1723:345).

Figuur 1
Registrasie van
Hans en Helena se huwelik

Figuur 2
Registrasie van
Hans en Judith se huwelik