|
|
|   |
Hans Oberholster is in 1723 in die ouderdom van 50 jaar oorlede. Die laaste
verwysing wat oor hom opgespoor kon word is gedateer 17 Junie 1723 toe hy en
Judith 'n kodisil tot hulle testament laat voeg het. Die testament is op 7 Augustus
1723 aan die weeskamer in die Kaap vertoon dus kan met veiligheid aanvaar word
dat Hans gedurende Julie of vroeg Augustus 1723 oorlede is. In hulle testament onderneem Hans en Judith skynbaar om by hulle afsterwe elkeen
die bedrag van 'vijf en twintig guldens Caabse munt' aan die diakonie van
Stellenbosch na te laat vir die behoeftiges. Judith onderneem verder om, indien sy
eerste tot sterwe kom en geen kinders sou agterlaat nie, 25 gulden aan elk van
haar broers, Charl, Jan en Pieter en haar susters Anna en Maria na te laat. Hulle
laat verder alle besittings aan mekaar na en benoem die heemrade Francois du Toit
(Helena se oom en stamvader van die Du Toits) en Arnoldus Cruijsman as voogde
van die oorlewende kinders. Op 17 Junie 1723 word Christiaan Rasp in die plek van
oorlede Arnoldus Cruijsman as voog per genoemde kodisil tot die testament
benoem. Die eerste bladsy van die testament verskyn hieronder as Figuur 1. |
 
|
|   Eerste bladsy van Hans en Judith se testament
|